Photo: Internet

Steve Biko (18 Desember 1948 – 12 September 1977)

Steve, ek sit in my woonstel met Hanlie Retief se ‘Gesels met 2’ – so pas gekoop – oop by Max du Preez se onderhoud. Ek het die eerste 186 bladsye oorgeslaan om sy storie te lees. Hanlie beeld die karakters so goed uit dat dit voel of ek Max se hand kan skud en sê “Bly te kennis.” Ek wens ek kon ure met hom sit en gedagtes uitruil. En met Professor Jansen. En natuurlik Dana Snyman.

My sitkamergordyne is reeds toegetrek al sit die drie tannies op die eerste vloer nog soos klipdassies in die son. Bok van Blerk sing ‘Vat jou goed en trek’ in die agtergrond, die ketel kook vir die derde keer (dink ek moet liewer opstaan en vir my ‘n 1,5L Coke gaan koop) en dit klink of my wasmasjien wil opstyg. Verder is dit doodstil.

Soms skree en lag die kinders in die kompleks, maar hulle ouers maak hulle hopeloos te gou stil.
Dit pla my dat mens nie meer kinders hoor of sien nie. Die parkie daai kant van die pad is deurgeroes en in die somer staan die kweekgras kniediep. Saans sien ek niemand in die straat loop nie behalwe die meisies op die N12. En ek moet vir jou sê: die meeste komplekse is beter omhein as Pollsmoor. Ironies – as ek so deur Facebook blaai – lyk almal sooo gelukkig.
X feeling happy with X and 5 others at Hartenbos.
Etes- en make-up foto’s.
Gym, naels, karre en diere.
Jy noem dit en almal daar is happy. Ook: love U a lot my lief. Almal altyd so gelukkig…
Buiten die kwaad pages/groups natuurlik: van Hate Crimes Against Whites tot … hulle post net negatiewe goed. Nooit ooit iets werklik goed nie. En natuurlik die honderde Facebook-Generaals in regse kringe. Iemand gaan altyd comment: Well placed shot will follow! En: (Op die vraag: Kan jy skiet ??) Ja, ek kan en kan baie ook kry om saam te gaan. Gaan kyk jy na hul Facebook-blaaie is die een 73. Die ander een is ‘n snotkop wie se gunsteling ps4 game Tom Clancy se Ghost Recon is.

Wat ek nie verstaan nie, Steve, ons was bereid om mekaar uit te moor vir God, Volk en Vaderland. Nou wil weinig hande vat en hierdie land bou. Maar daar is hoop, Steve, en ek wens ek jou oor ‘n beker koffie van Bouwer Bosch en Jaco Strydom vertel. Van Dr. Snyman, Dr. Jobson en Jonathan Londt. Van Oupa Coetzee en sy vrou, Karen. Van Joe Faul en ag die lysie is lank.
Laat ek groet en die klere gaan ophang. Tot ons mekaar eendag ontmoet: RIP.

– Dagjoernaal inskrywing van 2018 –  Stefaans Coetzee

(Die radikale swart-leier Steve Biko sterf in dieselfde jaar – 1977 -waarin ‘n radikale wit-terroris met dieselfde naam Stefaans Coetzee gebore word.)