Select Page

Karaktermoord

Carina Diedericks- Hugo

Uitgewer: Penguin Random House

Carina Diedericks- Hugo is ‘n ou bekende in die wêreld van jeugliteratuur en is veral bekend vir haar Thomas@- reeks wat vir kinders regoor die land leesgenot verskaf. Karaktermoord, Carina se nuutse boek, het Januarie laasjaar die rake getref en het sodoende haar debuut gemaak met haar eerste volwasse spanningsverhaal.

Sy is tans besig met haar boektoer en het bietjie meer vertel oor Karaktermoord en hoe die boek gevorm het.

Dit was jou eerste boek in ‘n lang ruk – hoe was dit om weer ‘n boek uit te gee, veral oor dit aansienlik anders was as jou vorige boeke?

Die was ‘n baie opwindende boek om uit te gee, veral omdat dit my eerste volwasse boek was. Hy het baie lank gevat, dit was my “Brug-baba”, maar dis altyd lekker om ‘n boek te sien en te weet al die laat aande is die moeite werd. Ek was ook senuweeagtig oor die boek, want hy is deur ‘n ander uitgewer uitgegee (Penguin Random House) en my ander uitgewer (Lapa) het gesê ek gaan heeltemal my jeug-lesers vervreem aangesien my naam gebou is op my jeugboeke. Toe Penguin hoor van die boek toe sê hulle ek moet hom aanstuur – dit is presies wat hulle soek. Ek dink dit was tyd gewees vir die boek en hy val nou so saam die einde van die Thomas-reeks.

Die ontvangs was goed gewees, al was daar ‘n paar tannies op Facebook wat gesê het dis “walglik” en “en dis té”, maar ek het die reaksies vreeslik geniet.

Die boek het in 2011 begin vorm aanneem, hoekom so lank wag om hom uit te gee?

Dit was ‘n mal dekade gewees, so baie dinge het gebeur en vir so drie jaar lank was ek ‘n reisskrywer gewees. Dan is jy so drie maande hier, ‘n maand daar en ek het baie min geskryf gedurende die tyd. Toe maak ek ‘n skuif na die wynindustrie, kry my lewe bietjie in orde en toe het dit met half reg gevoel. Ek het omtrent ‘n agste van die boek in Berlyn geskryf en toe nie eintlik weer daarna nie. Ek dink die boek het maar net saam my groter geword en wyser geword. Omdat wyn so belangrike deel van my lewe is, is dit amper asof dit ‘n belangrike komponent is waarvoor ek gewag het, maar wat ek nie geweet het ek voor wag nie.

Ek het die boek in 2015 weer opgetel en afgestof en toe so 2017 klaargemaak. Ons het die hele 2018 gewerk aan die boek en dit het uiteindelik verlede jaar verskyn.

Hoe werk die skryfproses m.a.w. hoe vorm die boek? Begin jy eers met die karakters of die storielyn?

Ek sê baie keer vir mense, dat as skrywer moet jy so half ‘n liaseer kabinet in jou kop hê, want jy sien goed raak en jy begin anders kyk na die lewe. So jy sien byvoorbeeld ‘n snaakse stoel of jy sien ‘n interessante figuur raak en jy besluit om dit te liaseer. Vir my is dit altyd eers ‘n karakter wat aanmeld en dan begin ek geïntereseerd raak in die karakter en so begin die storie hopelik dan organies te groei.

Ek het ‘n nare gewoonte om mense af te luister, ek kom dit nie eers meer agter nie en ek kom gereeld in die moeilikheid daaroor. So kry mens baie waardevolle karakters en dialoog, wat later ‘n toneel in ‘n boek of ‘n storie kan raak – en al wat jy moet doen is net verduidelik wat jy gesien het.

Toe ek geswot het, in my honneurs jaar, het Marlene van Niekerk net by Stellenbosch begin en toe het ons so 6 maande kreatiewe skryf by haar gehad. Sy het ons koppe oopgeblaas en vir ons klein goedjies geleer wat nou vir my van soveel waarde is. Sy het altyd gesê jy moet presies kan weet wie praat – elke karakter moet sy eie stem hê.

 Waar kry jy jou inspirasie en hoe het jy besluit op die storielyn van Karaktermoord? Ek weet Anna se karakter is gebaseer op n vrou wat jy op n trein in Berlyn gesien het.

Ek was op die trein en die meisie het opgeklim en dadelik ‘n effek op mense gehad. Sy het gelees en so broos gelyk, maar elke keer wat sy opgekyk het, het sy so vir mense gegluur dat hulle half weggedeins het. En omdat sy so verskriklik striking was en ek in twee ure se tyd gesien het hoe sy ‘n effek op ‘n hele trein het, het ek gewonder watse tiepe persoonlikheid moet jy hê om so ‘n impak op mense te kan hê. Ek is ook ‘n vreeslike ongeorganiseerde skrywer, ek beplan nie die storie vooruit nie, en dis hoekom die boek ook draai om verskillende karakters.Dit was vir my lekker om elkeen se storie te vertel.

Anna gaan op bladsy twee dood en skielik moes Anna se storie vanuit ander se oogpunt vertel word sonder dat dit te subjektief is, maar dit was baie lekker om in hulle koppe te klim en hulle backstories te dink. Dis soos ‘n legkaart bou en alles is karakter gedrewe, so die storielyn groei saam die karakters.

Jy gee besonders baie aandag aan detail in jou boeke, hoe gaan jy te werk om navorsing te doen oor jou karakters en hul omgewing in die boek?

Ek het op omtrent vier verskillende wynplase gewerk, en veral nou met parstyd,elke dag gebeur dieselfde proses en jy ken dit uit jou kop uit. Dit is baie meganies eintlik, maar dan begin jy skryf en jy besef mense met kennis oor wynmaak gaan die boek lees, so jy moet jou feite agter mekaar hê.

Ek hou daarvan as hulle in ‘n boek landmerke gebruik, veral in ‘n stad of herkenbare plek. Ek onthou ek het ‘n boek gelees van ‘n bekende skrywer wat ‘n toneel beskryf het van ‘n baie bekende straat in Observatory in Kaapstad en eers het hy die geboue verkeerd beskryf en toe sommer ‘n roomyswinkel bygesit wat nie eers daar is nie.En dit het so met my kop gelol -jy moet besluit òf om alles te verander òf los dit net so.

Maar dis vir my lekker om die detail in te werk,ek voel dit gee meer kleur aan die storie.

 Sebastiaan is ook ‘n skrywer in die boek, is sy karakter losweg op jou gebaseer?

Uhm, ja ek dink so. Hy skryf ook moeilik en dis vir my ook eintlik baie moeilik om te skryf. As ek in die boek is dan is dit ok, dan volg ek die proses. Ek is nie soos ander skrywers wat ses ure aanneen kan skryf nie. Ek werk ook meer sporadies soos Sebastiaan, dis ook dalk hoekom ek hom so geskryf het. Ek verstaan hoe hy kan skryf want hy is soos wat hy is.

Wat het jou laat besluit om op misdaadfiksie te fokus vir die boek en nie op nog ‘n jeugboek of Thomas@ boek nie?

Ek was lus vir iets anders gewees, en ek is baie mal oor misdaadsfiksie. Dis vir my baie lekker om te sien hoe misdaadfiksie in Afrikaans ook optel. ‘n Karakter soos Anna sou ook nie lekker by ‘n jeugboek ingepas het nie.

En hoe was Karaktermoord anders om te skryf as jou vorige boeke?

Die boek was anders, want met Thomas het jy half die karakters geken en jy het eintlik geweet wat die karakters gaan doen.Dit het bietjie resep-matig geword.Dit was lekker om na ‘n breek terug te kom en vars te begin.Die boek was lekker juis omdat ek nie hoef terug te gehou het nie, ek kon net laat loop het en enigiets geskryf het.

Elke skrywer ly soms aan “writersblock” – hoe affekteer dit jou skryfproses en hoe oorkom jy dit?

Ja, daar is mense wat sê dit bestaan nie. Ek dink as jy wil en jy het tyd, kan jy nogsteeds gaan lees en redigeer. Daar is altyd werk wat jy kan doen…of as jy vashaak, begin met iets anders.

Wat of wie dink jy is die grootste bydrae tot jou sukses?  

Ek dink die feit dat ek self baie lees, dit hou mens in voeling met stories, woorde en dan ook die taal. Jy moet regtig ‘n passie hê daarvoor. Ek dink die feit dat ek ook so verskriklik obsessief nuuskierig is oor mense help ook baie. Jy moet ook bietjie dink aan wie is jou mark, op die ou einde wil jy graag hê die boek moet verkoop en daar help dit dat ek self ‘n uitgewer was.

As jou huidige beroep as skrywer nie uitgewerk het nie – wat sou jy graag vir ‘n lewe wou doen en wat doen jy met jou tyd as jy nie skryf nie?

Ek het aanvanklik regte gestudeer en aan die einde van my eerste jaar het ek besluit om eerder oor te gaan na internasionale studies. Van daar af het dit so stelselmatig na die wêreld van woorde beweeg.Waar ek nou is, meet een voet in woorde en een voet in wyn, is perfek. Wyn is ook ‘n kunsproduk en ek gebruik woorde om dit te verkoop.

Ek werk in bemarking en PR meestal op wynplase, maar as ek nie skryf nie, dan lees ek. Ek bly in Stellenbosch en wynplase is maar deel van jou lewe en daar is ook soveel interessante mense wat daar bly- dis ‘n baie lekker kreatiewe atmosfeer wat stimulerend is, maar jy kan ook net saam mense ontspan en ‘n glas wyn drink.

Wie is jou gunsteling skrywer en wat volgens jou maak ‘n boek goed?

Dis effens ‘n cliché, maar wat J.K. Rowling gedoen het was ongelooflik, die veelvlakkigheid van haar werk, die blote verbeeldingskragtoer wat dit is en hoe sy die hele landskap van letterkunde verander het.

Ek dink wat ‘n boek goed maak is as dit jou depressief maak as jy dit klaar gelees het, want dit was so goed. Dis ‘n boek wat jou end uit boei en jou tyd werd is.

Watter een van jou boeke was vir jou die lekkerste om te skryf?

Ek sal sê dis die boek wat die minste aftrek gekry het omdat hulle “vry” – dit was Die Verdrinking van Josua van Eeden. Ek het dit geniet omdat dit iets anders was, op daai stadium was dit net Thomas all the way, so die proses was vir my lekker.

Watter oomblik sal jy beskryf as n hoogtepunt in jou loopbaan as skrywer?

Daar was twee gewees. Die een was ‘n storieweek in Dubai wat hulle ‘n skrywer uit elke kontinent genooi het en jy het soos tien dae lank in ‘n vyfster hotel gebly en jy moes eenkeer ‘n dag vir ‘n halfuur ‘n storie vertel vir die kinders van waar jy vandaan kom. Die tweede was die eerste dag toe hulle die Thomas TV reeks begin verfilm het. Dit was by Bloemhof Meisiesskool in Stellenbosch en daai hele skool was net vol kameras, ligte en goed wat soos miniatuur trein spoortjies lyk. En al wat ek dink is net ‘wow’. En Thomas en Alex is daar  en die regiseur sê vir my ek is in die pad. Ek het gedink dis so cool, ek is in die pad.

Jy is baie bekend vir jou Thomas @ reeks. Is die reeks klaar of gaan daar nog ‘n Thomas boek verskyn?

Daar is ‘n nuwe jeugreeks in wording, dit sal bietjie soos Thomas wees, maar vir ‘n ouer kind. Dit gaan bietjie meer edgy wees. Ek het bietjie moeg geraak vir Thomas en dit het moeilik geraak, want ek moes die karakters vir hoeveel boeke in graad 9 hou, want die oomblik wat hy ouer word wil hy begin vry en alles doen, en kinders in graad vier lees ook die boeke. Die volgende reeks gaan meer realisties wees, daar gaan ook ‘n misdaad gepleeg word, maar daar gaan definitief avonture wees.

Volgens sosiale media is jy tans weer besig om aan jou volgende roman te werk. Kan jy bietjie meer oor die roman vertel?

Dit gaan baie dieselfde tiepe boek wees as Karaktermoord, ook ‘n misdaadfiksie, maar weereens baie sterk rondom verhoudings. Die boek gaan in Stellenbosch afspeel en daar gaan ‘n paar werklike geraamtes uit die kas val.Ek wil nie te veel sê nie…maar die boek gaan half ‘n opvolg wees met die karakters op Karaktermoord wat nie dood is nie.